Gevalle van chroniese lood-blootstelling aan kinders by Rosh Pinah bevestig

Die adjunkminister van gesondheid, dr. Esther Muinjangue, het gevalle van chroniese lood-blootstelling by Rosh Pinah in die Karas-streek aan plaaslike media bevestig. Volgens dr. Muinjangue is tien gevalle van chroniese lood-blootstelling onder kinders tussen die ouderdomme van een en 12  vandeesmaand by Lüderitz en Rosh Pinah aangemeld. Sy sê ‘n streeksbestuurspan is op 6 Julie na die myndorp gestuur om ondersoek in te stel. ’n Opvolgbesoek is vir volgende week geskeduleer om hersiening van die rekords te doen, die gemeenskap te betrek en sielkundige ondersteuning te verleen. Die span sal bestaan uit onder meer arbeidsterapeute, epidemioloë  en beamptes van die Wêreldgesondheids-organisasie.