NamWater reik tender uit vir Oshakati se watersuiwerings-aanleg

NamWater het ‘n tender uitgereik vir konstruksiewerk vir die uitbreiding van Oshakati se verouderde watersuiwerings-aanleg. Die sluitingsdatum vir die tender is 21 Augustus. Jona Musheko, die hoof-skakelbeampte van die landbouministerie sê dat die uitbreiding van Oshakati se watersuiwerings-aanleg, kapasiteit sal verhoog om water aan die streke van Oshana en Oshikoto asook dele van Ohangwena te verskaf. Dit volg nadat die regering finansiering van die Afrika Ontwikkelingsbank ontvang het vir die uitbreiding van dié watersuiwerings-aanleg. Die ou pyplyne sal ook vervang word wat hierdie streke verbind, wat beteken water sal dan teen die optimale druk gepomp kan word, veral na die Oshikoto-streek.