SA Raad van Kerke vra oor staatskaping

Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het ‘n beroep op die regering gedoen om met groter dringendheid op te tree om die aanbevelings van die Staatskapingskommissie se verslag in werking te stel. Dit is ‘n jaar sedert hoofregter Raymond Zondo die kommissie se finale verslag aan President Cyril Ramaphosa oorhandig het. Die hoofsekretaris van die Raad, biskop Malusi Mpumlwana sê daar is nog skaars begin met die wetgewende prosesse wat in die verslag aanbeveel is. Hy sê daar was ook nog geen noemenswaardige skuldigbevindings in staatskapingsake nie. Mpumlwana sê hulle het aan die Nasionale Vervolgingsgesag geskryf om te vra vir antwoorde oor waarom die strafregtelike sake nie resultate oplewer nie.