Duikboot wat toeriste na Titanic vat, vermis
Die Amerikaanse kuswag het ‘n intensiewe soek-en-reddingsoperasie van stapel gestuur nadat ‘n duikboot vermis geraak het tydens ‘n ekspedisie na die Titanic se wrak aan die Noord-Amerikaanse Atlantiese kus. Daar was vermoedelik vyf mense aan boord van die vaartuig wat deur OceanGate Expeditions bedryf word. Die tuig het Sondagoggend die duik begin en volgens wat berig word het die vyf mense aanboord genoeg suurstof vir 96 uur. Die maatskappy sê hy ondersoek alle moontlikhede om die bemanning veilig huis toe te bring. Die Titanic is in 1985 ontdek op die bodem van die Atlantiese Oseaan, sowat 600 kilometer van die kus van Newfoundland in Kanada.