Wakker Otavi-voorman vang wildstropers
Die stroop van wild duur voort. In die jongste voorval, waarvan video’s wyd versprei is, is twee gemsbokke en ‘n koedoe op plaas Lichtenberg naby Otavi gesteel. Die Otjozondjupa-polisie sê die voorman het ‘n verdagte Toyota Corolla opgemerk met sakke wat van die plaas af in die motor in gelaai is. Die voorman het die voertuig agterna gesit en die polisie geskakel. Daar was ‘n ongeluk tussen die Corolla en die voorman se bakkie. Intussen het twee mans uit die voertuig gevlug en nog een is beseer toe hy uit die bewegende voertuig wou spring. Hy is ‘n 24-jarige Namibiese burger en is saam met die 27-jarige bestuurder, ook ‘n landsburger, in hegtenis geneem. Die polisie het twee gemsbok-koppe en een vel, sowel as die vel en kop van ‘n koedoe in die motor gevind. Die plek op die plaas waar die vleis opgehang was is ook ontdek. Die waarde van die drie diere word op 28 000 Namibiese dollar beraam en die twee verdagtes sal vandag in die Otavi-landdroshof verskyn.