Houtskoolprodusente moet versigtig wees, droë seisoen is hier
Die Houtskoolvereniging versoek produsente om versigtig te wees gedurende die droë seisoen sodat veldbrande verhoed kan word. Groot dele van die land is tans alreeds uiters droog en as die houtskool-produksieareas nie aan die voorgeskrewe vereistes voldoen nie, kan dit tot rampspoedige veldbrande lei. Die vereniging sê hy wag tans vir die publisering van die aangepaste reëls in die Staatskoerant. Volgens die Namibiese Landbou-unie moet produsente onthou dat slegs sentrale branding of groepering van drie tot vier werkers toegelaat sal word. Geen enkele persoon mag meer alleen in die veld houtskool produseer nie. Die rede daarvoor is dat daar altyd toesig by die produksieplek moet wees. Dit is nou ook die tyd om alle brandbestrydingstoerusting na te gaan. Daar moet ook genoeg plaaskaarte wees wat vir spanne uitgedeel kan word. Op die kaarte moet alle paaie, kampe, huise, slaapplekke, sowel as waterskepplekke aangedui wees.