Swapo boos vir vrae deur Kosmos 94.1 Nuus oor Rome-statuut, strafhof, Putin
Na die uitlatings deur die ANC dat hy stem om die Rome-statuut te verlaat en die ommekeer deur die Suid-Afrikaanse regering dat hy eerder aanpassings wil maak om immuniteit aan diegene met strafhof-lasbriewe te kan gee, het Kosmos 94.1 Nuus aangeklop by die Swapo-leierskap om die party se standpunt in die verband te kry. In 2017, het die Namibiese kabinet ‘n voorstel deur die party aanvaar om aan die statuut te onttrek. Dit het gekom na ‘n AU-vergadering daaroor en die adjunk-premier, en nou vise-president van die party, Netumbo Nandi-Ndaitwah, het dit aan plaaslike media bevestig. Daar was ook so voorstel in 2015 wat ook deur die regering aanvaar is. Maar dit blyk asof beide Nandi-Ndaitwah en Swapo se sekretaris-generaal Sophia Shaningwa nie vandag kommentaar daaroor gehad het nie. Beide leiers was geïrriteerd deur die vraag en het gesê Swapo volg nie die ANC nie. Nandi-Ndaitwah het gesê sy is Swapo en nie die ANC nie en die telefoon neergegooi.