Geingob: DTA het Namibië se onafhanklikheid vertraag
Swapo-president Hage Geingob het Saterdag by die vieringe van Swapo se 63ste herdenking gesê die Popular Democratic Movement, voorheen bekend as die Democratic Turnhalle Alliance, die DTA, kan nie oor ‘n bevrydende geskiedenis praat nie. Hy sê die opposisieparty behoort hom te skaam, want hulle het Namibië se onafhanklikheid vertraag. Talle Swapo-leiers het die vieringe op Grootfontein bygewoon, behalwe die party se adjunk-president, Netumbo Nandi-Ndaitwah, asook beide oud-presidente Sam Nujoma en Hifikepunye Pohamba. Geingob het Namibiërs aangemoedig om in volgende jaar se verkiesing vir die party se presidentskandidaat, Nandi-Ndaitwah, te stem.