Bewaringsbevele teen Amushelelo se bates weer in die hof
Die verhoordatums sal vandag in die saak waar die aanklaer-generaal aansoek doen vir bewaringsbevele teen Michael Amushelelo, bepaal word voor regter Thomas Masuku. Martha Imalwa se kantoor wil bevele vir agt luukse voertuie sowel as 13 verskillende bankrekenings bekom. Die aansoek handel oor die vermeende geldwassery waarvoor hy aangekla is, wat steeds in die hoërhof draai. Amushelelo staan die aansoek teen. Intussen is dit nie bekend of hy nog in aanhouding is na sy arrestasie Woensdagnamiddag nie. Sy prokureur Kadhila Amoomo het op sy sosiale media gesê sy kliënt is gearresteer in verband met die staking van Stad Windhoek se kontrakwerkers maar dat daar nog nie formele klagtes gebring is nie.