Ontwikkelaars, landmeters ens., in Turkye geteiken in ondersoek

Turkse owerhede het ‘n ondersoek van stapel gestuur teen eiendomsontwikkelaars. Dit hou verband met geboue wat deur hierdie week se verwoestende aardbewing inmekaar gestort het. President Recep Tayyip Erdoğan het die opdrag gegee nadat hy toenemende ontevredenheid in die gesig staar oor die kwaliteit van konstruksie in die streek. Die ministerie van justisie het byna 150 plaaslike aanklaerskantore gemagtig om aardbewingondersoekeenhede op te rig om kontrakteurs, landmeters en ander kundiges met skakels na die vernietigde geboue te ondersoek en te verseker dat hulle nie vlug of bewyse vernietig nie. Daar word berig dat van die ontwikkelaars in hegtenis geneem is terwyl hulle op pad was om die land te vlug en een is by Istanbul se lughawe gearresteer. Die dodetal na Maandag se aardbewing staan op meer as 28 000.