MTC se besigheidstrategie sal deur 5G aangedryf moet word

Simonis Storm het sy verslag rakende MTC se 2022 finansiële prestasie bekend gemaak. Volgens die makelaarsfirma het die Namibiese regering die moratorium op 5G opgehef en dus sal die spektrum tussen Maart en Junie vanjaar in gebruik geneem word. Die firma sê die stap sal MTC se nuwe besigheidsrigting moet aandryf wat sogenaamde cloud-dienste, vesel-landlyne, en wireless-vesellyne insluit. Maar, daar word verwag dat MTC strawwe kompetisie van Paratus sal ontvang, en Telecom en ander diensverskaffers sal ook kliënte in dié besigheidsruimte najaag. Simonis Storm sê verder dat MTC se strategie tans daarop gemik is om diegene sonder formele bankrekenings te bereik. Na beraming gebruik net twee derdes van Namibiërs formele bankdienste en dus is daar ‘n derde van die bevolking oor, wat minderjariges insluit, wat van sy dienste gebruIk kan maak. MTC het aan die einde van 2022 groei van 6,7 persent op ‘n jaargrondslag aangekondig met wins na belasting wat op 793 miljoen Namibiese dollar bepaal is. Die maatskappy het 90 persent van die huidige mark in die land.