Zuma vra aanklaer moet aan saak onttrek

Suid-Afrikaanse Oudpresident Jacob Zuma het amptelik gevra dat senior aanklaer Billy Downer hom onttrek aan sy saak in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg. Zuma en die Franse wapenvervaardiger Thales sal teregstaan op korrupsie-aanklagte wat verband hou met die omstrede wapenooreenkoms in die 1990’s. Downer was ook die aanklaer toe Zuma se gewese finansiële raadgewer, Schabir Shaik, 16 jaar gelede aan korrupsie skuldig bevind is. Die Nasionale Vervolgingsgesag sê Zuma se voorlegging lyk soos die een wat die howe vroeër verwerp het, maar hulle sal in die hof daarop antwoord wanneer die verhoor Dinsdag begin.