Zuma-uitspraak voorbehou

Die Konstitusionele Hof in Suid-Afrika het uitspraak voorbehou in die voormalige president Jacob Zuma se tersydestellingsaansoek. Die 79-jarige dien tans ‘n vonnis van 15 maande uit vir minagting van die hof. Zuma se prokureur, Dali Mpofu, het gister in dié hof aangevoer dit is wreed en vernederend om die voormalige president agter tralies te hou terwyl sy aansoek oorweeg word. Advokaat Thembeka Ngcukaitobi het namens die staatskapingskommissie aangevoer Zuma was tot op hede ‘n toonbeeld van iemand met geen respek vir die reg nie.