Zuma-span moet voorleggings doen

Die Konstitusionele Hof in Suid-Afrika het die regspanne van die voormalige president Jacob Zuma en ander partye opdrag gegee om elk ‘n 20-bladsy dokument in te dien waarin die internasionale regs- en grondwetlike implikasies van Zuma se gevangenisstraf beredeneer word. Die geskrewe voorleggings moet voor of op 13 Augustus 2021 ingedien word. Die Jacob Zuma-stigting se woordvoerder, Mzwandile Manyi, sê die hofbeslissing wat Zuma tronkstraf opgelê het, moet tersyde gestel word.

Die Suid-Afrikaanse polisie het intussen bekendgemaak dat spesiale eenhede ontplooi sal word om te voorkom dat ondersteuners van Zuma môre oproerig raak met sy hofverskyning in die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof in Pietermaritzburg. Hy staar 16 aanklagte van korrupsie, afpersing, bedrog, belastingontduiking en geldwassery in die gesig.