Zuma se dogter op lys van Julie-aanhitsers, verwag arrestasie

Oudpresident Jacob Zuma se dogter verwag om binnekort in sogenaamde Hollywood-styl in hegtenis geneem te word nadat sy as ʼn moontlike aanstigter van die onluste van Julie verlede jaar vermeld is. Volgens Duduzile Zuma-Sambudla sal sy waarskynlik ook borgtog geweier word. Die polisie het verlede week bekendgemaak sy word ondersoek nadat sy mense bedank het wat hulle ter ondersteuning van haar pa verset het. Dit het gebeur kort nadat hy sy tronkstraf vir minagting van die hof begin uitdien het. Altesaam 34 beweerde aanstigters is reeds in hegtenis geneem en Zuma-Sambudla skryf op Twitter sy is glo ook op die lys.