Zuma-ondersteuners rig groot skade aan uit protes teen sy tronkstraf

Groot skade is oornag aan vragmotors op van die roetes in KwaZulu-Natal aangerig deur Zuma-ondersteuners wat gekant is teen sy tronkstraf. Die premier van KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala, wil intussen hê president Cyril Ramaphosa moet dit oorweeg om kwytskelding aan sy voorganger te verleen. Hy hoop dit sal die gewelddadige versetoptrede beëindig wat in die provinsie uitgebreek het sedert Jacob Zuma Woensdagaand begin het om sy tronkstraf uit te dien. Zuma-ondersteuners het paaie in eThekwini versper en voertuie aan die brand gesteek, en eis dat hy onmiddellik vrygelaat word. Zikalala sê hy verstaan die betogers se woede, maar die vernietiging en geweld moet stop.