Zuma kry parool oor vrese van onrus – Fraser

Die voormalige nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste, Arthur Fraser, sê sy besluit om oudpresident Jacob Zuma op mediese parool vry te laat, het niks met politiekery of enige voorgestelde verhouding te make gehad nie. Dit is volgens ‘n beëdigde verklaring wat hy by die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ingedien het. Media berig Fraser sê hy het ook die onrus in Julie in dele van Gauteng en KwaZulu-Natal in aanmerking geneem, en veral in die tyd toe Zuma in die tronk was, toe daar openbare oproer en vernietiging van eiendom plaasgevind het. Hy sê hy het onrus gevrees as Zuma se gesondheid onnodig in gevaar gestel sou word.