Zondo sê Guptas het Zuma gebruik om Eskom te kaap

Hoofregter Raymond Zondo het bevind die Guptas het ‘n skema bewimpel om Eskom te kaap met die hulp van oudpresident Jacob Zuma. Hy het vroeër vandag die vierde deel van die staatskapingsverslag aan president Cyril Ramaphosa oorhandig. Die verslag wys daarop Zuma was die middelpunt van die familie se staatskaping-skema. Dit sê die Guptas moes Zuma in ‘n baie vroeë stadium identifiseer het as iemand wie se karakter van so ‘n aard was dat hulle hom teen die mense van Suid-Afrika en sy eie regering kon gebruik om hulle eie sakebelange te bevorder.