Zim-kieserslys einde van die maand bekend

Die kieserslys vir die komende algemene verkiesings in Zimbabwe sal aan die einde van Junie aan verkiesingskandidate beskikbaar gestel word. Die Zimbabwe Verkiesingskommissie se hoofverkiesingsbeampte, Utloile Silaigwana, het die aankondiging gemaak. Die kommissie het onder skoot gekom vir die ondeursigtige wyse waarop hy tot dusver die kiesersregistrasie- en verifikasie-oefening uitgevoer het. Duisende mense het gevind dat hul name op die kieserslys ontbreek toe hulle via selfoonplatforms geverifieer is. Ander het opgemerk hul name is verskuif van die stemlokale waarin hulle geregistreer het. Die land het ‘n geskiedenis van vermoedelike verkiesingsbedrog.