Zelensky: Rusland beplan terreur-aanval op grootste kernkragstasie

Die President van Oekraïne, Volodimir Zelensky, sê inligting wat spioene bekom het dui daarop dat Rusland ‘n terreur-aanval op die besette Zaporizhia-kernkragstasie beplan. Zelensky waarsku dat so ‘n aanval op die grootste kernkrag-stasie in Europa die gevaar van bestraling inhou. Rusland het Zelensky se waarskuwing in ‘n video egter as ‘n leuen afgemaak. Moskou sê die direkteur-generaal van die Verenigde Nasies se kern-agentskap, Rafael Grossi, is onderweg na Rusland om die aanleg te besoek. Grossi sou die aanleg verlede week besoek het, maar dit is weens veiligheidsredes uitgestel. Die jongste vrese oor die kernkrag-aanleg volg ná kommer sowat twee weke gelede toe die Khakofka-dam in die Kherson-gebied beskadig is, wat water lewer vir die verkoeling van die kernkragsentrale.