Zaporizhzhia-ondersoekspan op pad

’n Span van die Internasionale Atoomenergie-agentskap vertrek vandag van die Oekraïnse hoofstad Kiëf na die Zaporizhzhia-kernaanleg om ondersoek in te stel vir moontlike skade. Daar is kommer omdat daar gereeld om die aanleg ‘n skietery is. Russiese magte het kort na hul inval op 24 Februarie die aanleg oorgeneem alhoewel Oekraïnse personeel steeds die plek bestuur. Die agentskap se hoof Rafael Grossi lei die groep inspekteurs en sê hulle het ‘n baie belangrike taak om te verrig – om die werklike situasie daar te assesseer en te stabiliseer.