Zambiër sê Nampol-lid skiet hom op grens

‘n Zambiese burger sê hy is deur iemand geskiet wat ‘n Namibiese polisie-uniform aangehad het. Masule Loyd sê hy het probeer om vis te verkoop aan die Namibiese kant van die Zambezi-rivier. Loyd, 36, sê hy en sy twee neefs is geroep deur mense wat soos kliënte voorgekom het en toe hy op die Namibiese strand kom, het ‘n privaatmotor aangekom en hy is twee keer geskiet deur die man. Loyd sê ná die voorval kon hy nie in die land ‘n saak oopmaak nie. Hy het mediese behandeling in Zambië ontvang en ook daar ‘n klag gelê. Die woordvoerder van die polisie in die streek, inspekteur Kisco Satali sê hulle dra kennis van die saak maar volgens hulle inligting sê die Zambiese polisie hulle was betrokke by oorgrens-smokkelary. Dit is die eerste skietvoorval sedert die drie Namibiese Nchindo-broers en hul neef op 5 November 2020 deur lede van die Botswana-weermag teen die grens geskiet is.