Zambezi word soos die Wilde-Weste

Daar blyk geen lig aan die einde van die tonnel vir kommunale boere in die Zambezi-streek te wees nie, aangesien hulle steeds hul vee verloor weens veediewe, hoofsaaklik van Zambië, wat steeds onwettig grense oorsteek om vee te kom steel. Veediefstal vier hoogty in die Zambezi-streek waar oor die afgelope vyf maande glo meer as 200 beeste gesteel en na Zambië aangejaag is waar daar ‘n winsgewende swart mark is. Veediewe verkoop gesteelde vee aan slaghuise in Zambië en sommige gebruik selfs hierdie beeste om vir lobola te betaal. Die goewerneur van die Zambezi-streek, Lawrence Sampofu, sê aan Kosmos 94.1 Nuus die probleem is steeds daar en sommige mense kom met gewere en begin skiet.