Wysigings, hersienings op Wet op Streeksrade uitgevoer

Die Namibiese ministerie van stedelike ontwikkeling hersien en wysig op die oomblik ‘n tweede konsep van die Wet op Streeksrade. Die minister, Erastus Uutoni, sê dat berigte van swak diens en in sommige gevalle wanbestuur, asook tussengevegte tussen raadslede en amptenare, van die redes vir swak dienslewering is. Die ministerie se verantwoordelikheid behels die versekering van toepaslike bestuurstrukture wat landsburgers in staat sal stel om hul demokratiese regte uit te oefen en vir hulle om deel te neem aan die beplanning om ontwikkeling te bewerkstellig. Die minister voeg by die voorsiening van basiese infrastruktuur en dienste is uiters belangrik vir gemeenskappe om ‘n ordentlike en waardige lewensbestaan te voer. Volgens Uutoni is dit van kritieke belang dat sy ministerie oor die nodige regsinstrumente en administratiewe stelsels beskik sodat hulle en belanghebbendes hierdie mandaat doeltreffend kan uitvoer.