Wysig Veteranewet, vra ouer kinders van oorlogsveterane

Die Vereniging van Afhanklikes van Namibië se Veterane het ‘n petisie ingedien waarin die parlement versoek word om die Veteranewet te wysig om hulle te akkommodeer. Die groep was van plan om die petisie aan die Nasionale Vergadering se Speaker, Peter Katjavivi, te oorhandig, maar is na Zoo Park gerig, waar hulle die petisie voorgelees en aan ‘n amptenaar van die parlement se kantoor van die sekretaris oorhandig het. Hulle sê die huidige Veteranewet se definisie van ‘n veteraan is misleidend, onregverdig en verkeerd, aangesien dit slegs die sogenaamde “born frees” wat onder die ouderdom van 18 is, erken as kinders van oorlogsveterane. Diegene wat in oorlogsones gebore en grootgeword het, word nie deur die wet erken nie, want hulle is almal ouer as 18. Aupapa Ndungula, die vereniging se woordvoerder, gee meer inligting.