Wrakstukke van Impalila-vliegongeluk op pad na Windhoek

‘n Vragmotor met die wrakstukke en enjin van die vliegtuig wat verlede week by Impalila-eiland geval het, het vandag uit Kasane in Botswana vertrek en word môre in Windhoek verwag. Kaptein Magnus Abraham, direkteur van die direktoraat van vliegtuigongeluk-ondersoeke in die Namibiese vervoerministerie, sê ter wille van onafhanklike en objektiewe bevindings, sal die enjin van die vliegtuig na Suid-Afrika vervoer word om verder ontleed te word. Die enjin sal deur ‘n Namibiese ondersoeker na Suid-Afrika vergesel word. Hy sê ‘n voorlopige ongeluksverslag sal volgende week deur die vervoerminister John Mutorwa vrygestel word. Abraham sê dit was moeilik om met behulp van polisieduikers die wrak uit die Zambezirivier vol krokodille by Impalila-eiland uit te haal.