Wolff is nie vies vir Hamilton nie

Die spanhoof van die Mercedes Formule Een-span, Toto Wolff, sê die skuif aanstaande jaar van die Britse renjaer, Lewis Hamilton, na Ferrari, het nie as ʼn verrassing gekom nie en hy koester geen wrok nie. Die Duitse span het gister bevestig die sewemalige kampioen sal aan die einde van die seisoen sy tasse pak om die Spaanse renjaer, Carlos Sainz, by Scuderia te vervang. Volgens Wolff het die aard van die kontrakverlenging wat Hamilton in Augustus verlede jaar onderteken het, geen twyfel gelaat dat die vennootskap van 12 jaar tot ʼn einde sou kom nie. Hy aanvaar Hamilton se verduideliking dat hy ʼn ander omgewing nodig het.