Woef vang 3 met wapens

Drie mense sal vandag in die Motherwell-landdroshof in Gqeberha verskyn ná uitstekende speurwerk deur ‘n lid van die honde-eenheid. Die verdagtes is in hegtenis geneem nadat die polisie ‘n voertuig op die N2 voorgekeer het. Toe dit deursoek word, het beampte Bentley ‘n verdagte deurpaneel uitgesnuffel. Dit is oopgemaak en die polisie het beslag gelê op ‘n knaldemper, ‘n jagmes, ‘n geweerloop en verskeie koeëls. Die drie sal aangekla word van sameswering om ‘n misdaad te pleeg en die onwettige besit van ‘n vuurwapen.