Wimbledon: Kyrgios haal McEnroe-streke uit

Die vierde gekeurde Griek, Stefanos Tsitsipas, en die Australiër Nick Kyrgios, is beboet ná hulle gedrag in hulle derde-ronde-kragmeting Saterdag by Wimbledon. Tsitsipas moet 163 000 Namibiese dollar opdok vir onsportiewe gedrag. Hy het tydens die wedstryd twee waarskuwings ontvang omdat hy die bal roekeloos geslaan het – een keer tussen toeskouers in en die tweede keer hard in die telbord vas ná ‘n onderarm-afslaan deur Kyrgios. Kyrgios is met 65 000 Namibiese dollar beboet omdat hy tydens die wedstryd gevloek het. Dit is die Australiër se tweede boete by vanjaar se Wimbledon wat sy totale straf-bedrag by die kampioenskap op 228 000 Namibiese dollar te staan bring.