Whk se watervoorsiening onder druk

Onderbrekings in watervoorsiening kan in die hoofstad voorkom as gevolg van die beskadigde NamWater-pypleiding tussen Windhoek en Okahandja. Stad Windhoek sê besonderhede oor die omvang van die skade en hersteltydraamwerk sal eers beskikbaar wees nadat die water uit die pyplyn gedreineer is en die terrein gestabiliseer is om toegang tot die beskadigde lyn te verkry. Die reservoirs in die stad is tussen 60 en 75 persent vol en boorgate is reeds geaktiveer. Die herwinningsaanleg is ook tans op volle kapasiteit. Die stad maan inwoners dat sou die watertoevoer nie teen die naweek herstel word nie kan reservoirs lae vlakke bereik en dus moet water spaarsamig gebruik word. Elisenheim sal water ontvang totdat die reservoir wat die gebied voorsien, opdroog. Die Brakwater-area sal beslis wateronderbrekings ervaar aangesien dit direk vanaf die NamWater-pyplyn voorsien word.