WGO sê wêreld is in uitstekende posisie om Covid te beëindig

Die wêreld was nog nooit in ‘n beter posisie om die Covid-pandemie te beëindig nie, sê die hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, sê ons is nog nie daar nie, maar die einde is in sig. Die virus, wat laat in 2019 in China ontstaan het, het byna 6,5 miljoen mense se lewens geëis en 606 miljoen besmet, en wêreld-ekonomieë op hul knieë gebring en gesondheidsorg-stelsels oorweldig. die bekendstelling van entstowwe het gehelp om die erns van die siekte te stuit. Sterftes weens Covid-19 verlede week was die laagste sedert Maart 2020, berig die WGO. Die direkteur-generaal het ook nasies versoek om 100 persent van hul hoë-risikogroepe in te ent en aan te hou om vir die virus te toets.