WGO: Covid knel stryd teen tuberkulose

Die Wêreld-gesondheidsorganisasie se Afrika-afdeling sê die hertoewysing van hulpbronne en gesondheidswerkers in baie Afrikalande om Covid-19 te bestry, het vordering teen tuberkulose belemmer. Die streek het verlede jaar 549 000 sterftes aangemeld wat ‘n toename van ongeveer 2 000 is. Alhoewel gevalle verlede jaar met 2,5 persent gedaal het tot 1,4 miljoen, is daar beduidend minder gevalle aangemeld in lande soos Suid-Afrika, Angola en Zimbabwe, wat ‘n hoë TB-koers het. Die WGO se woordvoerder, Matshidiso Moeti, sê regerings moet harder werk om toegang tot noodsaaklike gesondheidsdienste te bevorder.