Wet oor wapenbesit moet hersien word – Putin

Die Russiese President Vladimir Putin, het opdrag gegee vir ‘n dringende hersiening van wapenbesit in die land ná ‘n skietery by ‘n skool in Kazan. Sewe kinders en 2 volwassenes is dood toe ‘n man by ‘n skool in die hoofstad van Tatarsan losgebrand het. Een-en-twintig ander mense, die meeste kinders, is gewond. ‘n Negentienjarige verdagte is in hegtenis geneem. Hy het glo voor die aanval ‘n boodskap op sosiale media geplaas dat hy van plan was om ‘n groot aantal mense dood te maak voor hy homself sou skiet. Die leier van Tatarsan, Rustam Minnikhanov, het die verdagte as ‘n terroris beskryf.