Wes-Afrikaanse weermaghoofde vergader steeds oor Niger
Weermaghoofde van verskeie Wes-Afrikaanse lande voer vandag weer samesprekings in die Ghanese hoofstad Accra oor moontlike militêre ingryping in Niger. Die ingryping sal slegs plaasvind indien diplomatieke pogings nie daarin slaag om die staatsgreep in Niger om te keer nie. Die President van Niger, Mohamed Bazoum, is op 26 Julie uit die kussings gelig. Die militêre leiers wat die staatsgreep uitgevoer het, weier om gehoor te gee aan oproepe van die VN, die streeksorganisasie Ecowas en andere om Bazoum na sy pos te laat terugkeer.