Werkers van Otji-munisipaliteit hou protesoptog

Meer as 120 werknemers van die Otjiwarongo-munisipaliteit het vanoggend ‘n vreedsame betoging gehou vir beter werksomstandighede. Hulle sê die munisipaliteit se hoof uitvoerende beampte Moses Matyayi, is ‘n outokraat. Die werkers het petisie opgetrek en wou dit aan hom oorhandig maar hy het sonder om enigiets te sê, geweier om dit te aanvaar. Die werkers eis sy bedanking en vra ook vir betaling van hul eenmalige salaristjek soos ooreengekom is. Hulle sê verder dat daar ‘n onregverdige werwingsproses is en vra die herstrukturering van die salarisstelsel. Otjiwarongo-burgemeester, Gottlieb Shivute, het bevestig die betoging was onwettig, dus kon Matyayi nie die werkers aanhoor nie. Amptenare van die Namibië Openbare Werkersunie het die betoging gelei.