Wêreldvoedseldag op 16 Okt., 1,5m Namibiërs is honger

Namibië se 16de Wêreldvoedseldag-herdenking sal vanjaar in die Oshana-streek gehou word met verskeie rolspelers, insluitend die VN en die Duitse hulporganisasie die GIZ. Die dag word gehou onder die tema ‘Los niemand agter nie. Beter produksie, beter voeding, ‘n beter omgewing en ‘n beter lewe vir almal’. Wêreldvoedseldag word elke jaar op 16 Oktober gevier om die stigting van FAO in 1945 te herdenk. Die dag poog om wêreldwye bewustheid te bevorder vir diegene wat honger ly en vir die behoefte om gesonde dieet vir almal te verseker. In Namibië raak voedselvoorsiening jaarliks ‘n groter uitdaging met een uit elke vyf Namibiese kinders onder die ouderdom van vyf jaar wat vertraagde groei ervaar. Een uit elke drie kinders is ook ondervoed en 1,5 miljoen Namibiërs het nie voldoende toegang tot voedsel nie. Die syfers neem jaarliks toe.