Welwitschias, Haaie, Leeus en Stormers draf uit vandag

Daar is lekker rugby in die hoofstad vanmiddag met die Namibiese Welwitschias wat die Valke op die Hage Geingob-stadion pak. Die wedstryd, deel van die Mzanzi Challenge, skop om vier-uur af. En Suid-Afrika se spanne het ook verskeie kragmetings. Die Haaie, die Stormers en die Leeus het alles om voor te speel wanneer hulle vandag in hulle eerste seisoen in die onderskeie Europese kompetisies, op die veld draf in die kwarteindrondes. Die Haaie sal vanmiddag teen Toulouse in hulle Kampioenebeker-top-agt-wedstryd in Frankryk aantree, met die Stormers wat teen Exeter in Engeland te staan kom. Die Leeus pak vanaand die Glasgow Warriors in Skotland in hul Uitdaagbeker-kwarteindstryd.