Weerlig slaan vrou onder boom dood

‘n 24-jarige vrou is dood by Shimpanda-dorpie in die Kavango-Oos-streek nadat sy deur weerlig getref is. NamPol se misdaad ondersoek-koördineerder in die streek, adjunk-kommissaris Bonifatius Kanyetu, sê die oorledene is geïdentifiseer as Justina Kapango Mudumbi. Sy het ‘n tweejarige kind op haar rug gehad en het glo saam met twee ander vroue skuiling onder ‘n boom gesoek omdat dit begin reën het toe die weerlig hulle getref het. Sy is op slag dood. Die ander vroue en die baba het oorleef, maar is na die Rundu-staatshospitaal gehaas vir mediese aandag.