‘Waterstofbom’ lei tot ontploffing by Medupi-steenkoolkragstasie

Nalatigheid, swak prosedures en iemand wat nie sy werk gedoen het nie, en daar het jy ’n waterstofbom. So beskryf die energiekenner Ted Blom die gebeure Sondagaand voor elf-uur in eenheid vier van die Medupi-steenkoolkragstasie in Lephalale waar waterstof vermoedelik met suurstof gemeng en tot ’n ontploffing gelei het. Blom sê hy het inligting oor die ontploffing en wat daartoe gelei het by ’n onberispelike en betroubare bron gekry. Sewe personeellede is ná die voorval vir skok behandel. Waterstof word as verkoelingsgas in die opwekker gebruik om die oordrag van hitte te bewerkstellig.