Wasserfall moordverhoor begin op 6 Februarie

Die beskuldigdes in die moordsaak van die Walvisbaaier Shannon Wasserfall se verhoor is tot Februarie 2023 in die Windhoekse hoërhof uitgestel. Azaan Madisia en Steven Mulundu het Woensdag weer vlugtig in die Windhoekse hoërhof voor regter Christie Liebenberg verskyn. Hul verhoor is vir 6 tot 10 Februarie 2023 geskeduleer, en daarna weer vanaf 6 tot 10 Maart en 27 Maart tot 31 Maart 2023. Die broer en suster word daarvan aangekla dat hulle Wasserfall vermoor het en haar oorskot in ‘n vlak graf agter die Dunes Mall by Walvisbaai in 2020 begrawe het. Wasserfall se moord het gelei tot protesoptogte in verskeie sentrums regoor die land. Beide beskuldigdes is steeds in aanhouding nadat borgtog geweier is.