Wasserfall-saak draai voor regter Liebenberg

Die vermeende moordenaars van die Walvisbaaier Shannon Wasserfall verskyn vandag weer in die Windhoekse hoërhof. Adjunk-regter-president Hosea Angula het die saak waarin Azaan Madisia en haar broer Junior Mulundu van die moord op Wasserfall aangekla word, tot vandag uitgestel om die beskuldigdes se prokureurs tyd te gee om ‘n antwoord saam te stel wat verband hou met die voorverhoor-memorandum wat deur die staat ingedien is. Regter Christie Liebenberg hoor die saak aan wat voorkom vir ‘n opdatering oor stukke wat die partye moet indien. Die twee word daarvan aangekla dat hulle Wasserfall vermoor het en haar oorskot in ‘n vlak graf agter die Dunes Mall by Walvisbaai in 2020 begrawe het. Wasserfall se moord het gelei tot protesoptogte in verskeie sentrums regoor die land.