Wapenbeheer dringend nodig in SA

Gun Free South Africa sê die jongste massamoorde in die land wat met vuurwapens gepleeg is, sal nie die laaste wees nie, tensy die regering ophou om net leë beloftes te maak dat hy gaan optree. Tien mense is in die jongste twee voorvalle in die Oos-Kaap dood en vier mense is in ‘n skietvoorval by ‘n mans-hostel in KwaMashu, noord van Durban dood. Gun Free SA se woordvoerder, Adèle Kirsten, sê beslissende optrede is nodig om die epidemie van wapengeweld te stop. Dit sluit in die voorlegging van die Wysigingswetsontwerp op Vuurwapenbeheer om vuurwapens en eienaars te beperk, en die vestiging van ‘n gespesialiseerde vuurwapeneenheid.