Wang-ontsnapping: Almal wag op almal…

Adjudant-offisier Silas Shipandeni van die Khomas-polisie het bevestig dat die mag op die Korrektiewe Diens wag om ‘n formele klag te lê voor hy ‘n soektog van stapel kan stuur na die Chinese renosterhoringsmokkelaar, Wang Hui. Wang het Maandagmiddag uit die Namibiese Korrektiewe Dienste-fasiliteit in Windhoek ontsnap. Teen net na twee-uur het beamptes na ‘n wit Mercedes Benz-sportnutsvoertuig gesoek. Die voertuig was volgens wat berig word, op pad Karibib toe. Intussen het die Erongo-polisie se woordvoerder inspekteur Ileni Shapumba ook aan Kosmos 94.1 Nuus bevestig geen klopjagte kan uitgevoer word nie omdat hulle weer op opdrag van die Khomas-polisie wag. Die hoof van die diens, kommissaris-generaal Raphael Hamunyela was nie beskikbaar vir kommentaar nie maar het onderneem om terugvoer te gee. Wang dien tronkstraf van 15 jaar uit nadat hy en drie ander Chinese in Maart 2014 14 renosterhorings en twee luiperdvelle by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako wou uitsmokkel.