Walvisbaai munisipaliteit skors senior finansies-amptenare

Die Walvisbaai munisipale raad het sy hoofbestuurder van finansies, Frans !Gonteb, en die bestuurder van finansies, Johanna Shidute, geskors. Volgens ‘n persverklaring word geen beskuldigings teen hulle gemaak nie, maar is die skorsing om ongehinderde ondersoeke na die aanstelling van RedForce skuldinvorderaars te verseker. RedForce het ook ‘n dagvaarding op die munisipaliteit beteken vir litigasie in die hoërhof oor die kansellasie van sy dienste. Instruksies is aan Metcalfe Beukes Prokureurs gegee om die litigasie te opponeer en ‘n teeneis teen Red Force in te stel. Volgens die verklaring is RedForce in kennis gestel dat hulle nie meer waterdienste mag ont- of aankoppel nie, of meterlesings doen nie, aangesien dit die munisipaliteit se werk is. Die Windhoek hoërhof het reeds die besluit van die munisipaliteit om sy kontrak met RedForce te beëindig, na ‘n dringende aansoek tersyde gestel.