Vyf familielede steeds kritiek na vergiftiging, ministerie toets verder

Die Namibiese gesondheidsministerie het die jongste in verband met die vergiftiging van 17 lede van ‘n huishouding in die Kayova-nedersetting in die Kavango Oos-streek bekend gemaak. Nege is reeds dood, almal 16 jaar en jonger met die jongste sterfgeval ‘n twee-jarige seuntjie. Agt word steeds in die hospitaal behandel waarvan vyf kritiek is. Die groep het almal mahangu gemeng met ‘n sediment van ‘n tuisgemaakte bier, mundevere, geëet. Bykomende bloed is getrek en word op die oomblik ontleed, ook vir alkoholvergiftiging. ‘n Span maatskaplike werkers is ook ontplooi om die familie by te staan.