Vulstasies in Noorde sluit as gevolg van onwettige brandstof

Die smokkelary van onwettige brandstof in die Noorde het skerp toegeneem, soveel so dat kleinhandelaars in die bedryf of genoodsaak is om hul deur te sluit of, hulle staan op die randjie van bankrotskap. Op die oomblik verkoop 25 liter van die Angolese brandstof teen ongeveer 12 dollar ‘n liter, terwyl Namibiese brandstof teen meer as 22 dollar ‘n liter verhandel. Die Angolese brandstof se swaelinhoud is baie hoog en terwyl voertuigeienaars gewaarsku word oor skade aan hul voertuie, verkoop die brandstof soos soetkoek. Volgens berigte sê die voorsitter van die kleinhandelaarsvereniging, Fafa, Hennie Krüger, dat hulle sedert 2018 die kwessie van onwettige brandstof in die Noorde aanspreek. Die lynminister, Tom Alweendo het ook al besoek afgelê in die Noorde om die smokkelary onder beheer te bring. Die enigste rede hoekom brandstof so goedkoop in Angola is, is omdat die buurland se regering die prys subsidieer, nie omdat die land olie het nie. Brandstof word nie in Angola vervaardig nie, daar is geen raffinaderye nie.