VSA-dollar versterk verder met verhoging in rentekoers

Die Amerikaanse dollar het weer versterk na Jerome Powell, voorsitter van die VSA Federale Reserweraad, aangekondig het dat daardie land se rentekoers met 75 basispunte verhoog word. Dit is die vierde agtereenvolgende keer wat die koers so opgestoot word. Rentekoerse word normaalweg verhoog om inflasie te bekamp maar, met die Amerikaanse dollar wat versterk, vertoon die rand en Namibiese dollar uiters swak wat weer ‘n impak op brandstofpryse in ons streek het. Dit het op sy beurt weer ‘n impak op inflasie. Intussen word daar voorspel dat beide die Suid-Afrikaanse en Namibiese sentrale banke aan die einde van November die repokoers met 100 basispunte kan verhoog, eenvoudig omdat die Amerikaanse Federale Reserweraad nog ‘n rentekoers-aankondiging het voor die einde van die jaar en plaaslik is daar net een aankondiging oor. Die Suid-Afrikaanse rand en Namibiese dollar verhandel tans rondom 18,25 teen die Amerikaanse geldeenheid.