VSA besoek DRK, Rwanda oor rebelle

Die Verenigde State het sy Direkteur van Nasionale Intelligensie, Avril Haines, na Rwanda en sy buurland, die Demokratiese Republiek van die Kongo, gestuur vir afsonderlike vergaderings met staatshoofde. Die Withuis sê die besoek is noodsaaklik omdat burgerlikes onder die geweld lei. Presidente Felix Tshisekedi, en sy Rwandese eweknie, Paul Kagame, is haaks oor hul steun aan rebellegroepe wat beide lande wil destabiliseer. Tshisekedi word daarvan beskuldig dat hy die Demokratiese Magte vir die Bevryding van Rwanda, ‘n gewapende rebellegroep wat aanvalle in Rwanda loods, ondersteun terwyl Kagame die M23-rebelle wat oostelike DRK destabiliseer, ondersteun.