Vroue-sokker: Spanje en Swede vandag

Die span van Swede wat tans derde op die wêreldranglys is,  kom vandag in die Wêreldbeker vir Vroue se halfeindronde in Auckland teen Spanje te staan. Die wenner sal Sondag in Sydney sake uitspook teen óf Engeland óf die medegasheerland Australië. Swede speel in hulle vyfde Wêreldbeker-halfeindronde. Hulle het in 2003 die eindwedstryd gehaal, maar moes in 1991, 2011 en 2019 die aftog blaas. Spanje speel die eerste keer in die halfeindronde en maak hulle derde verskyning in die kompetisie. Vandag se kragmeting in die Vroue-wêreldbeker is die eerste tussen dié twee nasies.