Vrou vas oor kindermishandeling

‘n Saak van kindermishandeling en aanranding is teen ‘n 26-jarige vrou van Onankali, ongeveer 50 kilometer suidoos van Ondangwa, gemaak. Volgens die Namibiese polisie versorg die vrou twee kinders van vyf en ses jaar oud. Sy het hulle na bewering erg aangerand en ook hulle hande gebrand maar, het hulle nie dokter toe gevat nie. ‘n Lid van die gemeenskap het dit opgemerk en owerhede in kennis gestel. Die vrou is volgens berigte die kinders se tante. Die ouers is reeds opgespoor en die vrou sal vandag in die landdroshof op Ondangwa verskyn. Sy is op ‘n waarskuwing vry omdat sy ‘n vier-maande-oue baba het. Maatskaplike werkers is reeds in kennis gestel.